Heling
Heling
Die heling-bediening staan onder leiding van Suretha du Toit, wat deur haar Creative World kreatiwiteitsentrum na talle mense uitreik. Deur die kreatiwiteitsklasse en kunsterapie het die studente die geleentheid om binne ‘n Christelike raamwerk na emosionele heling te werk. Die gemeente ondersteun hierdie bediening tans hoofsaaklik finansieel en geestelik. Enigeen is welkom om ook ‘n persoonlike bydrae te lewer deur self aktief by die onderskeie sentrums betrokke te raak.70 kinders by Abraham Kriel Kindersorg in Langlaagte het weekliks klas, waar hul kreatiwiteit gestimuleer word deur o.a. kralewerk, pottebakkery, naaldwerk en kunsklasse.
In Vlakfontein word 12 vrouens met terapeutiese opleiding in die borduurgroep bedien, waar hulle ook al pragtige kralewerk gedoen het. Van hulle werk is ook al uitgevoer na Nederland. Hulle genereer ‘n inkomste uit hulle werk, wat weer help om die pot aan die kook te hou, aangesien die wins van die produkte direk na hulle toe gaan.
’n Groep van 20 ma’s met hul kinders in Dobsonville kry opleiding in kinderopvoeding (die Early Childhood Development-kursus).
By elkeen van hierdie sentrums is Evangelisasie en geestelike begeleiding ‘n integrale deel van die bediening.
Die afgelope 9 jaar was Creative World ook betrokke by MES in Hillbrow. Aanvanklik was dit net by die Othandweni program vir straatkinders. Die betrokkenheid het later uitgebrei na ‘n volwaardige kreatiwiteitsentrum wat nou vir almal in Hillbrow beskibaar is. Die bestuurder is Mandla Hlathi, self een van die voormalige studente.
Die Heling-bediening werk tans grotendeels buite gemeentegrense en af en toe saam met die jeug en die liturgiese span.
Skakel Suretha du Toit by 011 726 8372 of 083 335 2410 as jy by dié bediening betrokke wil raak.
Getuienis van Suretha du Toit n.a.v. ‘n dag by Abraham Kriel:
‘N GROOT BAK VOL GEKLEURDE SPRINGMIELIES
Na ‘n wilde week en lekker laaang naweek se gewerskaf in die tuin was ek Maandagoggend poegaai (dit was toe ‘n niersteen en infeksie!). Eerlik genoeg bel ek vroegoggend en kanselleer my vergadering en sê dat ek net te lam en tam is om te dink vir die 10 uur vergadering. Ek kon nie my afspraak met die groep groot dogters by Abraham Kriel kanselleer nie want dit is een van hul hoogtepunte van die week. Terapeutiese en kreatiewe werksessie waar jy jouself kan vind en nuwe moed skep en net jouself wees!!! So maak ek gereed vir die 11:30 klas van 10 meisies tussen die ouderdomme 12 en 16 jaar. Omdat hul die afgelope 3 weke baie hard aan ‘n projek gewerk het, gedink en baie moes konsentreer het ek besluit dat ons vandag (Maandag) sommer net iets lekkers gaan doen wat nie regtig dinkwerk nodig het nie (vir my ook nie!). Al wat ek nodig het vir hierdie klas was ‘n groot bak gekleurde springmielies.Maklik genoeg, ek koop sommer op pad na my sentrum by die vrou op die hoek van die straat ‘n klomp pakkies wat alreeds verpak is. Wel, dit is die end van die maand en ek het geen sent in my beursie nie en besluit om gou by die OTM te stop en ‘n R50 te trek. Onvoldoende fondse op my debietkaart en ek het nie tyd of lus om in ‘n lang ry binne-in die bank te gaan staan nie. Ek ry toe verder kinderhuis toe met niks, maar froetel toe in die kar rond en ontdek R10. Stop by die vrou op die hoek en kyk wat ek vir R10 kan kry. Daar het sy toe net 2 pakkies gekleurde springmielies wat warmgeasem is en papnat is en dan net die oranje kaasstokkies wat nie eintlik kan werk nie. Ek koop toe maar die stokkies en kry nog een passella omdat ek tien gekoop het. Wel, dit is darem beter as niks, alhoewel ek baie graag die groot gekleurde springmielies wou gehad het, want dit gaan om kleur en die lekkerte om daarmee te kan speel. Wat gebeur is dat jy neem ‘n groot stuk wit papier en gooi jou bakkie gekleurde mielies daarop uit en skommel en skuif die mielies op die papier totdat daar ‘n voorwerp “verskyn”. So nou en dan kan jy ook van die mielies eet. Jy skommel dit weer deurmekaar en kry ‘n nuwe voorwerp.So speel jy totdat jy iets gekry het wat jy van hou (al lyk dit soos n bosluis). Nou neem jy jou potlood en trek al om die buitelyne van die springmielies en oop spasies, sover as wat jy aftrek kan jy ook natuurlik daarvan eet, so voltooi jy die hele verrassende tekening. Nadat jy die buitelyne voltooi het, gooi jy die orige springmielies terug in jou bakkie en kan dan tussendeur eet terwyl jy verder werk. Jy begin verf tussenin en om al die lyne en gebruik al wat ‘n kleur is en geniet net die geverf soos wat jy lekker kry. Die hele papier word toegeverf en laat dit dan droog word om later te kan gebruik vir n gevoude boksie, wat weer gebruik kan word om die seisoenale liefde vir sywurms daarin te bêre.
Soos gewoonlik as ek in die oggend wakker word dan vra ek vir die Here wat ek vir Hom vandag kan doen. Soms vra ek dit met ‘n huiwering want sê nou net dit pas nie in my plan vir die dag in nie? So gaan ek toe vanuit daardie “opdrag” kinderhuis toe sonder my pak gekleurde springmielies. Die dogters is toe alreeds in die sentrum en wag vir my - gereed om te begin. GROOT was my verbasing toe ek by hul om die tafel kom, staan daar in die middel van die tafel n GROOT bak vol gekleurde springmielies. Ek juig en lag en vertel toe vir hul hoekom ek so bly is. Kan jy glo die Here het ‘n nietige bak springmielies voorsien! Ek verduidelik toe aan die dogters wat alles die oggend gebeur het en waarom ek so bly is oor die springmielies, dat die Here in die kleinste voorsien.
Ek vra toe aan die dogter wat die bak met mielies gebring het, hoekom sy dit juis vandag daar het, want niemand het geweet watter projek ons vandag gaan aanpak nie. Sy vertel toe dat al die huise in die kinderhuis het ‘n voorraad sakke mielies gekry en sy het gedink om ‘n bak vol saam te bring klas toe omrede hul besig was om daaraan te eet toe dit tyd geword het vir klas. Sonder dat ons besef “reël” en voorsien God elke dag in ons lewens, ons moet dit net raaksien. Soms kom ons dit agter en meeste van die tyd gaan ons net met ons eie lewens aan. Hierdie nietige gebeurtenis wat so GROOTS is, het my net weer laat besef dat ons elke dag in God se getroue hande is, en dat ons volgens Sy Wil moet lewe. Die volgende ses huise is toe gereël om ‘n bak mielies klas toe te bring wanneer hul kom en so is my voorraad vir die week uitgesorteer. Geen bekommernis verder met die aankoop van gekleurde springmielies nie, dit is klaar gereed!!! Wat ‘n lekkerte en n groot voorreg!!!! Halleluja!!!
Bankbesonderhede
Melville Kruisgemeente
ABSA Auckland Park
Rek Nr: 2840580760
Tak Kode: 335105
Rek Tipe: Tjek
Erediens Tye
| 09:00 | Oggenddiens |
| 17:30 | Aktuele Aanddiens |
| 19:00 | Studentediens |